Sperdatum vir kommentaar op Russiese uraanplanne verleng

Die omgewingsministerie het te kenne gegee dat die sperdatum vir kommentaar op Uranium One se omgewingsimpakstudie vir toetsmynbedrywighede op die plaas Tripoli buite Leonardville verleng is. Dit sou vandag tot ‘n einde gekom het maar, die aansoek en relevante dokument lê ter insae tot Vrydag, 23 Februarie. Die omgewingsimpakstudie, konsep omgewingsbestuursplan en ander verwante dokumente vir hierdie aansoek is by beide die ministeries van omgewing en myne en energie ingedien. Die Stampriet Aquifer Uranium Mining Association, of Sauma, het vroeër sy kommer uitgespreek oor die tydsberekening van die aansoek omdat dit oor die vakansietyd gedoen is. Sauma staan enige uraanontginning deur Uranium One en sy Namibiese filiaal Headspring Investments in die Stampriet-bekken teen.