Spele: Atlete van Rusland, Belarus mag neutraal deelneem

Russiese en Belarussiese atlete sal toegelaat word om neutraal deel te neem aan volgende jaar se Spele in Parys. Die Internasionale Olimpiese Komitee het die besluit aangekondig en sê hulle sal nie toegelaat word om onder hulle land se vlag, embleem of volkslied mee te ding nie. Atlete van die twee lande is verbied nadat Rusland Oekraïne vroeg verlede jaar ingeval het met Belarus se hulp. Oekraïne het daarna gedreig om die Spele te boikot as die verbod opgehef word. Die atlete sal slegs aan individuele sportsoorte mag deelneem en nie aan spankompetisies nie.