Speaker moet sekretaris se 70% salarisverhoging verduidelik
Die speaker van die Nasionale Vergadering in die buurland, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, moet teen volgende week inligting verskaf oor die Sekretaris van die Parlement se salaris. Dit volg ná berigte dat sy Xolile George se salaris eensydig met 70 persent verhoog het sonder om politieke partye in te lig. Die Parlement se Komitee oor Bevoegdhede en Voorregte het Mapisa-Nqakula gevra om teen Maandag skriftelike verduidelikings te verskaf. Die salaris is aanvanklik vir 2,6 miljoen Suid-Afrikaanse rand per jaar geadverteer, terwyl George vroeër meer as 5 miljoen rand verdien het as uitvoerende hoof van die Plaaslike Regeringsvereniging.