Sommige riviere styg, ander sak
Die Kunenerivier by Ruacana het gestyg en ‘n vloei van 414,5 kubieke meter per sekonde is aangeteken, volgens die nuutste vloedverslag van die Namibië Hidrologiese Diens. Dit is heelwat hoër as die vloei van sowat 358 kubieke meter per sekonde ‘n week gelede, en meer as vier keer die vloei op dieselfde tyd verlede jaar. Die watervlak van die Zambezirivier by Katima Mulilo het effe gesak tot 1,29m. Die Okavangorivier by Rundu het egter met 3cm gestyg tot 5,37m. Die watervlakke van die Benede-Oranjerivier by Blouputs het ook gestyg en 53cm aangeteken, maar by Sendelingsdrift is 33cm gemeet, wat ‘n effense afname vanaf die vorige dag toon.