Somaliese seerowers laat gekaapte skip vry

Somaliese seerowers het ‘n gekaapte skip, die MV Abdullah, en sy bemanning van 23 vanoggend vrygelaat nadat ‘n losprys van 94 miljoen Namibiese dollar betaal is. Die skip is in Maart gekaap toe dit van Mosambiek na die Verenigde Arabiese Emirate op pad was. Die kaping het sowat 600 seemyl oos van Somalië se hoofstad Mogadisjoe gebeur. Somaliese seerowers het van ongeveer 2008 tot 2018 chaos in die waters langs die land se lang kuslyn veroorsaak. Hulle was dormant tot laat verlede jaar, toe seerower-aktiwiteit weer begin toeneem het.