Solidariteit veroordeel ondergrondse gyselaarsdrama

Die vakbond Solidariteit veroordeel die ontstellende gyselaarsdrama by Gold One Modder East-myn in Springs, Gauteng, waar ongeveer 440 mynwerkers glo gevange gehou, aangerand en verneder is. Dit volg op ‘n soortgelyke voorval in Oktober wat gelei het tot die afdanking van 52 mynwerkers. Die jongste voorval het gevolg op ‘n sitstaking om beswaar te maak teen die afdankings. Volgens Solidariteit is wit toesighoudende bestuurders spesifiek geteiken. Die vakbond eis vinnige optrede teen die oortreders. Woordvoerder Paul Mardon dring daarop aan dat arbeidsgeskille deur behoorlike prosedures opgelos word sonder om mense se gesondheid en veiligheid in gevaar te stel.