So lyk Swapo en die PDM se boeke…

Die Verkiesingskommissie het streng regulasies in verband met die befondsing en bates van politieke partye en begin dit nou toepas. Tot dusver het beide Swapo en die PDM hulle finansiële state en bateregisters ingedien. Swapo het in 2022 68 miljoen Namibiese dollar in befondsing ontvang en 193 miljoen dollar verdien uit verskeie beleggings en meer. In 2021, het die party 76 miljoen dollar in befondsing ontvang en 213 miljoen dollar in beleggings en meer verdien. Die PDM ontvang, nes Swapo, befondsing vir sy 16 setels in die Nasionale Vergadering. Verlede jaar het die party 13 miljoen dollar van die staat ontvang en in 2021, 11 miljoen dollar. Die party het bates van 2,4 miljoen dollar verklaar. Swapo ontvang natuurlik ook befondsing vir sy 64 setels wat elk rondom 812 500 dollar per jaar werd is, dus het die party in 2022 ongeveer 52 miljoen dollar van die staat ontvang.