So kan hoër olieprys jou eiendom se waarde opstoot

Die styging in die Brent ru-olieprys het moontlik ‘n voordeel vir Namibiese eienaars van eiendom. Die hoë prys het ‘n positiewe impak op die Angolese ekonomie en volgens Frans Uusiku, FNB se marknavorser, kan dit veroorsaak dat burgers van die buurland weer terugkeer vir ontspanning en opvoedkundige doeleindes. Dit kan moontlik weer veroorsaak, soos etlike jare gelede, dat eiendomspryse styg. Volgens Uusiku, sal dit, tesame met die verwagte oplewing in binnelandse ekonomiese aktiwiteit, waarskynlik die belangrikste aspekte vir die Namibië-eiendomsmark op kort- tot mediumtermyn wees. Hy voeg by dat die herstel van die plaaslike eiendomsmark gekniehalter word deur stygende rentekoerse. Volgens Uusiku word huishoudings se skuld tot besteebare inkomste op sowat 89 persent beraam.