Skotse minister bedank oor groot iPad-rekening

Skotland se gesondheid-minister, Michael Matheson, het bedank oor ‘n skandaal rakende sy iPad-rekening van byna 260 000 Namibiese dollar. Hy het die toestel laat in 2022 op ‘n gesinsvakansie na Marokko saamgeneem en die groot bedrag aan oorgrens-aanlyn kostes opgedok. Matheson het die geld terugbetaal nadat hy aanvanklik beweer het hy het kiesafdelingswerk gedoen tydens die reis, terwyl dit later duidelik geword het sy seuns het die iPad gebruik om sokker te kyk. Die bevindings van ’n ondersoek waarmee in November verlede jaar begin is, is nog nie bekend nie.