Skietstilstand van 7 dae in Sudan beklink
Sudan se strydende faksies het ‘n ooreenkoms onderteken vir ‘n sewe-dag lange wapenstilstand. Dit kom na die geweld, wat die land in chaos gedompel het en meer as ‘n miljoen mense ontheem het, sy sesde week betree het. Die stilstand tree Maandagaand in werking. Dit volg na samesprekings wat in Jeddah, Saoedi-Arabië gehou is in samewerking met die VSA. Talle vorige skietstilstand-ooreenkomste is oortree. Hierdie ooreenkoms sal egter deur ‘n VSA-Saoedi- en internasionaal-ondersteunde moniteringsmeganisme afgedwing word. Die ooreenkoms vra ook vir die verspreiding van humanitêre hulp, die herstel van noodsaaklike dienste en die onttrekking van magte uit hospitale en noodsaaklike openbare fasiliteite.