Skadeberaming in Mauritius na Belal

Mauritius is besig met ‘n skadeberaming ná die tropiese storm Belal verby die eillandstaat in die Indiese Oseaan beweeg het en internasionale vlugte hervat kon word. Die Weerdiens het vroeg gister aangekondig hy verhoog die sikloonwaarskuwing tot die maksimum vlak vier, maar het later alle sikloonwaarskuwings opgehef. Reuters berig Belal het die lewe van minstens een persoon geëis, duisende mense sonder krag gelaat, geboue oorstroom en verkeerschaos veroorsaak. Die lughawebestuur op die eiland het toeriste aangeraai om hulle onderskeie lugdienste te kontak vir die bevestiging van hersiene vertrektye.