Sirkus sorg vir glimlagte in Gaza-strook

Lede van ‘n sirkus het skuilings besoek in die konflikgeteisterde Gaza-strook om ‘n tydelike glimlag op die gesigte van ontheemde kinders te bring en dat hulle vir ‘n oomblik kan ontsnap uit die gruwels van oorlog. Palestynse kinders verduur moeilike toestande ná maande van vernietiging en hulle word gedwing om van een verplasingskamp na ‘n ander te beweeg sedert die uitbreek van die Israel-Hamas-oorlog verlede Oktober.

Te midde van hierdie verwoesting bied kunstenaars van die Gaza Free Circus Centre ‘n paar oomblikke van vermaak en akrobatiese optredes met hul besoeke in sentraal en suidelike Gaza om genesing te bring in elke kinderhart. Volgens Mohammed Khader, stigter van die groep, is die verligting van kinders se sielkundige lyding een van die belangrikste doelwitte.

“Deur die geleenthede en aktiwiteite wat ons aanbied, poog ons om post-traumatiese stresversteuring te behandel maar ook vreugde te verskaf en ‘n glimlag op hul gesigte te plaas. Tientalle Palestynse kinders kom bymekaar om te kyk, al is dit net vir ‘n kort tydjie, om weg te kom van die tragiese werklikheid waarin hulle sedert die begin van die oorlog leef.” Een van die ontheemde kinders sê sy gesin is ten minste vier keer gedwing om te trek, en dat hy nou die meeste van sy tyd in ‘n tent deurbring. Om na hierdie optredes te kyk, bied vir weer hoop.

“Deur hierdie aktiwiteit beoog ons om ‘n beeld van vrede aan kinders oor te dra, en om hulle te verlig van die druk wat hulle ervaar. Ons poog om kinders te laat vergeet van die vorme van vernietiging en bloed wat in die Gaza-strook gestort is,” het een van die kunstenaars gesê.

Die Gaza Free Circus Centre is in 2018 gestig en het voorheen weeklikse optredes aangebied terwyl hulle sowat 250 Palestynse kinders in die kuns van sirkusvaardighede opgelei het.

Na die uitbreek van die oorlog is baie van sy werknemers egter verlede November uit hul huise in die noorde van Gaza verplaas en het daarna na die suidelike stad Rafah verhuis, wat nou self bedreig word deur bombardement.

Nou gaan die sirkusgroep voort met sy kerndoel om kinders gelukkig te maak en drade van hoop, liefde en vreugde te weef selfs onder die moeilikste omstandighede.