Sikloon Ilsa versterk na kategorie vyf  

Die tropiese sikloon Ilsa wat na Australië onderweg is, het tot ‘n kategorie vyf sikloon versterk. Die storm sal na verwagting later vandag die stad Port Hedland in die noorde van die Wes-Australië provinsie tref. ‘n Rooi waarskuwing is in die streek uitgereik en duisende mense is opdrag gegee om onmiddellik skuiling te vind en van vensters en deure weg te bly. Sowat 700 inwoners van die afgeleë Bidyadanga-gebied is na ‘n veiliger plek verskuif. Ilsa sal na verwagting die sterkste storm wees wat die streek in bykans tien jaar tref. Wind van tot 315 kilometer per uur word in sekere gebiede verwag, sowel as tot 400 millimeter se reën.