Sekuriteitsdiens ignoreer glo hofbevel oor lone

Sekuriteitswagte in diens van die nasionale jeug sekuriteitsdiens, ‘n staatsbeheerde entiteit onder die jeug-ministerie, het in Windhoek saam met die Natau-vakbond oor lone betoog. Die wagte sê die entiteit hou nie by ‘n ooreenkoms om hulle ‘n minimumloon van 10 Namibiese dollar ‘n uur te betaal nie, en hulle kry net 7 dollar 75 per uur. ‘n Hofbevel van die hooggeregshof dat die maatskappy die wagte terugwerkend vanaf April vanjaar die minimumloon moet betaal, word ook glo verontagsaam. Die petisie is ontvang deur Ben Biwa, die hoofbestuurder van beleggings, wat belowe het om dit aan die lynminister te lewer.