Schumi se horlosies onder die hamer

Agt van die voormalige Formule Een-wêreldkampioen, Michael Schumacher, se spesiale horlosies sal na verwagting volgende maand altesaam meer as 90 miljoen Namibiese dollar op ‘n veiling in Switserland haal. Die luukse, persoonlike horlosies sal van 3 tot 5 Mei in New York uitgestal word voor die Christie’s-veiling in Genève op die 13de. Schumacher se familie glo horlosieversamelaars sal hul ware waarde kan waardeer. Die Duitse renjaer het sewe wêreldtitels gewen voordat hy in 2013 ‘n kopbesering opgedoen het tydens ‘n ski-ongeluk, waarna hy uit die openbare oog verdwyn het.