SAUK kry ter elfder uur uitsaairegte vir krieket

Die SAUK het weereens die moontlikheid van geen dekking van ‘n Suid-Afrikaanse span wat by ‘n Wêreldbeker-toernooi betrokke is net-net vermy, hierdie keer die Proteas in krieket se vierjaarlikse pronkstuk in Indië. Dit kom nadat die nasionale uitsaaier op die nippertjie ‘n ooreenkoms met die betaalkanaal Multichoice bereik het vir die regte om die toernooi uit te saai. Vanaf Saterdag sal die SAUK al nege die Proteas se wedstryde by die Wêreldbeker-toernooi, een halfeindstryd en die eindstryd kan uitsaai volgens die jongste ooreenkoms. Dit is die tweede keer in ‘n maand dat die SAUK ‘n laaste-minuut-toegewing gegun word, met die twee uitsaaiers wat deur dieselfde uitmergelende proses gegaan het vir die regte om die Wêreldbeker-rugbytoernooi in Frankryk uit te saai.