SAOG vergader in Windhoek oor konflik in Mosambiek, DRK
Die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap se vergadering van die Buitengewone Ministeriële Komitee van die Orgaan oor Politiek, Verdediging en Veiligheidsamewerking vind vandag in Windhoek plaas. Die Namibiese adjunk-premier en minister van internasionale betrekkinge, Netumbo Nandi-Ndaitwah, sê die vergadering fokus op die sekuriteits-opdatering in die Cabo Delgado-provinsie van Mosambiek, waar die SAOG-streek ‘n militêre sending ontplooi het om die terrorisme-aanvalle te neutraliseer. Sy sê die streek is besig om oor te skakel na ‘n multidimensionele sending, met polisie, korrektiewe dienste en burgerlike komponente, om die burgers van Mosambiek te ondersteun om te herstel van die terreur-aanvalle oor die afgelope vyf jare. Kommer is ook uitgespreek oor aanvalle in die oostelike dele van die Demokratiese Republiek van die Kongo en die hulp van die Verenigde Nasies sal ingeroep word.