Sam !Khubis word vandag op Rehoboth herdenk

Die Namibiese Bastergemeenskap herdenk vandag en môre Sam !Khubis, die oorwinning van die Basters op 7 en 8 Mei 1915 teen die Duitse koloniale weermag. Die herdenking van Sam !Khubis vanjaar begin nou om agt-uur by die Kaptein Herman van Wyk-gedenksaal waarna ‘n optog gehou sal word wat uiteindelik tot ‘n byeenkoms namiddag om vyf-uur by die Sam !Khubis-terrein sal eindig. Die herdenking is een van die belangrikste dae op die Basters se kalender. ‘n Groep Baster-troepe was in 1915 omring deur Duitse Schutztruppe wat by verre meer in getalle en skietgoed as die Basters was. Hulle het twee dae uitgehou toe die Duitsers eweskielik onttrek het. Die Basters glo steeds dit was deur ‘n goddelike ingryping wat hulle oorleef het.