Salarisse vat reeds 5 jaar ‘n erge knou

Nes in Namibië, is huishoudings in Suid-Afrika ook onder erge druk. Data uit die buurland toon salarisse wat werkers huis toe neem, het die afgelope vyf jaar onder inflasie gebly. Volgens BankServ Africa is dit hoofsaaklik te wyte aan ekonomiese uitdagings soos lae groei, die Covid-19-pandemie, beurtkrag en stygende inflasie. Hierdie probleme het ook ‘n negatiewe uitwerking op ondernemings, wat lei tot beperkte salarisverhogings en minder werksgeleenthede. Die ekonoom Elize Kruger sê die huidige sake-omgewing in Suid-Afrika is ongenaakbaar en ingestel op oorlewing, wat dit vir maatskappye ʼn uitdaging maak om met gemak salarisverhogings te gee en werkskepping te bevorder.