Saak waar vrou Nampol dagvaar vir miskraam weer in die hof
Datums sal vandag vir die hoërhof verhoor waar Marcelina Gaingos die veiligheidsminister, die inspekteur-generaal van die Namibiese polisie, en nege polisiebeamptes onder andere dagvaar, bepaal word. Sy het drie eise, twee van 3,5 miljoen Namibiese dollar, en een van 1,5 miljoen dollar teen verskillende respondente, waarvan die laaste ‘n huiswerker is en teen wie die laaste eis ingedien is. In haar stukke sê sy, sy is in haar huis in hegtenis geneem op Sondag, 10 Desember 2017, en is eers by die Windhoek-landdroshof aangehou, en toe by die Klein Windhoek-polisiestasie waarna sy op 12 Desember vrygelaat is sonder dat ‘n klag teen haar gelê is. Sy was vier maande swanger ten tye van die voorval en het kort daarna ‘n miskraam gehad. Gaingos beweer die polisielede het saamgesweer met die huiswerker om haar uit haar huis uit te kry. Sy sê die huiswerker het ‘n vals klag teen haar gelê. Die huis was in ‘n familietwis maar daardie besonderhede sal eers in die verhoor bekend wees. Die partye sal vandag voor regter Marlene Tommasi datums vir die verhoor neerlê.