SA werkloosheidkoers daal in derde kwartaal
Die amptelike werkloosheidsyfer vir die derde kwartaal van 2024 het met 1,4-persentasiepunte gedaal tot 32,1-persent, vergeleke met die 33,5-persent vir die tweede kwartaal. Volgens Statistieke Suid-Afrika se kwartaallikse arbeidsmagopname was daar ‘n toename van 294 000 in die aantal werkende mense met ‘n afname van 373 000 ten opsigte van werkloses. Die nie-ekonomies-aktiewe bevolking het tot 16,5-miljoen toegeneem. Die uitgebreide werkloosheidsyfer vir die derde kwartaal het met 0,7 van ‘n persentasiepunt tot 41,9-persent gedaal. Dit sluit in die mense wat opgehou het om werk te soek.