SA rand daal teen dollar ná ooreenkoms oor skuldplafon in VSA

Die Amerikaanse dollar het versterk teen die Suid-Afrikaanse rand wat nou op 19 rand 66 sent staan, nadat die Withuis en die Republikeinse Party ooreengekom het om Amerika se skuldplafon te lig na weke van onderhandelings. Die ooreenkoms moet steeds deur die kongres goedgekeur word. President Joe Biden het die ooreenkoms as ‘n kompromis bestempel, terwyl die speaker, Kevin McCarthy sê die ooreenkoms bevat ‘n geskiedkundige vermindering in besteding. Die Amerikaanse Tesourie het vroeër gewaarsku dat die land teen 5 Junie nie meer geld sal hê om sy rekeninge te betaal. Die VSA moet geld leen om die regering te befonds omdat die land meer bestee as wat hy deur belasting invorder. Die Republikeine het gevra vir besnoeiing in besteding aan onderwys en ander maatskaplike programme in ruil vir ‘n ooreenkoms om die skuldplafon te lig.