SA inflasie styg in Februarie tot 5,6%
Suid-Afrika se jaarlikse verbruikersinflasie het in Februarie gestyg tot 5,6-persent. In Januarie het dit op 5,3-persent gestaan en in Desember op 5,1-persent. Produk-sektore wat die styging aangedryf het, sluit in, behuising en nutsdienste, versekering, voedsel en nie-alkoholiese drankies, en vervoer. Statistieke SA sê, daar was ‘n 10,3-persent maand-tot-maand-verhoging in mediesefonds-premies, terwyl alle soorte versekering ook toegeneem het die afgelope jaar. Eiers is 30,7-persent duurder as ‘n jaar gelede. Jaarlikse rys-inflasie het in Februarie verder gestyg tot 25-persent. Verskeie produkte is egter goedkoper as ‘n jaar gelede, soos broodmeel, beskuit, klaargemengde meel, pasta en macaroni.