SA inflasie die laagste sedert Oktober 2021 July 19, 2023
Daar is goeie nuus oor inflasie in die buurland, net ‘n dag voor die Reserwebank ‘n besluit sal neem oor nog ‘n rentekoers-verhoging. Inflasie het in Junie tot 5,4 persent gedaal van 6,3 persent in Mei, wat onder die boonste perk van die bank se teikenreeks van 3 tot 6 persent is. Die laaste keer dat inflasie onder 6 persent was, was in April verlede jaar. Die koers van Junie is die laagste in 20 maande, met die koers wat in Oktober 2021 op 5 persent gestaan het. Voedsel-inflasie het die derde agtereenvolgende maand verlangsaam.