SA herdenk Menseregtedag in Sharpeville

Terwyl Namibië  onafhanklikheid herdenk, vier die buurland Menseregtedag. President Cyril Ramaphosa lewer vandag die hoofrede by die nasionale herdenking in Sharpeville, Gauteng. Die geleentheid, onder die tema ‘Drie dekades van respek vir en bevordering van menseregte’, val saam met die 30ste herdenking van vryheid en demokrasie. Volgens die Presidensie simboliseer die geleentheid in Sharpeville die regering se verbintenis om eer te betoon teenoor die wat in 1960 in Sharpeville hulle lewens opgeoffer het vir die bevryding van Suid-Afrika. Die geleentheid begin met ‘n seremonie by die Sharpeville Gedenkterrein waar Ramaphosa ‘n kranslegging sal doen.