Rusland waarsku teen reise na Midde-Ooste, oor Iran

Rusland het sy burgers afgeraai om na die Midde-Ooste te reis, veral na Israel, Libanon en die Palestynse gebiede. Dit is weens Iran se dreigement om Israel te laat boet vir ‘n aanval in Sirië, berig Reuters. Iran het wraak beloof vir die lugaanval van 1 April op sy ambassade-kompleks in Damaskus, waarin ‘n top-Iranse generaal en ses ander Iranse militêre offisiere gesterf het. Die Duitse lugdiens Lufthansa het ook ‘n opskorting van sy vlugte na Teheran in Iran verleng. Austrian Airlines, wat ses keer per week van Wene na Teheran vlieg, sê hy beplan nog om Donderdag te vlieg, maar is besig om tydsberekeninge aan te pas om te verhoed dat sy personeel in Iran oornag.