Rusland sê arrestasie van Putin sal as oorlogsverklaring beskou word

Die ANC sê die Verenigde Rusland-party waarsku indien Suid-Afrika die Russiese President Vladimir Putin, in hegtenis neem wanneer hy vir die Brics-beraad opdaag, sal dit as ‘n oorlogsverklaring beskou word. Dit kom te midde van voortgesette spanning tussen Rusland en die Weste, met verskeie lande wat sanksies teen die land instel oor sy optrede in Oekraïne. Suid-Afrika is as ‘n ondertekenaarlid van die Internasionale Strafhof verplig om individue in hegtenis te neem wat gesoek word vir misdade teen die mensdom, volksmoord en oorlogsmisdade.