Rusland sê aanvalle in Moskou is terreur

Die Russiese ministerie van buitelandse sake sê hy behou die reg voor om die strengste moontlike maatreëls toe te pas ná die jongste hommeltuigaanvalle. Minstens agt hommeltuie het Moskou aangeval. Twee mense is beseer en talle geboue is beskadig. Volgens berigte was minstens een hommeltuig ‘n Oekraïens vervaardigde UJ 22 van die Ukrjet-maatskappy. Die ministerie het die Weste gekritiseer en sê die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie se versekering dat Oekraïne nie Rusland sal aanval nie, was skynheilig. Kiëf ontken enige betrokkenheid by die aanvalle wat Russiese President Vladimir Putin as ‘n terreuraanval beskryf het, al is sy weermag ook verantwoordelik vir hommeltuigaanvalle in woonbuurte regdeur die Oekraïne.