Rusland erken nie die Internasionale Strafhof nie

Rusland sê hy erken nie die regsbevoegdheid van die Internasionale Strafhof in Den Haag nie. Die volg op berigte dat die aanklaer in die hof twee sake van oorlogsmisdade wil open wat verband hou met Rusland se inval in Oekraïne. Hy wil ook lasbriewe uitreik vir die inhegtenisneming van ‘n aantal Russe wat vermoedelik verantwoordelik was vir die massa-ontvoering van Oekraïnse kinders, asook regstreekse aanvalle op Oekraïnse infrastruktuur. Rusland het wel in 2000 die Statuut van Rome oor die beheer van die strafhof onderteken, maar het nooit die ooreenkoms bekragtig om ‘n lid te word nie.