Rusland besig met vlootoefeninge in Swart See
Rusland is besig met vlootoefeninge in die Swart See en het vuurpyle afgevuur op teikens op die seeoppervlak, twee dae ná ‘n waarskuwing aan Oekraïne. Rusland sê enige skip wat onderweg is na hawens in die Swart See sal as militêre teikens beskou word. Rusland het dié waarskuwing gerig nadat hy Maandag aan die Swart See-graan-ooreenkoms onttrek het. Dit beteken dat die veiligheid van skepe, wat graan vanaf Oekraïne vervoer, nie meer gewaarborg kan word nie. Oekraïne het ná Rusland se onttrekking gesê dat hy tydelike roetes vir voortgesette graan-verskeping wil instel. Dit het gelei tot Rusland se waarskuwing dat enige skip onderweg na Oekraïnse hawens beskou word as ‘n bedreiging, wat wapens vervoer. Rusland se vlootoefeninge behels ook om op ‘n verdagte skip, toe te slaan.