Riruako vra hof vir kondonasie oor laat indiening

Die sogenaamde tweede of ander Ovaherero opperhoof en bekende politieke ontleder, dr. Hoze Riruako word saam met sy vrou Belinda vir net minder as 93 000 Namibiese dollar in uitstaande huurgeld gedagvaar. Die aansoeker, Uta Mette, sê in haar stukke aan regter Collins Parker dat sy ‘n eiendom in Pionierspark, Uitbreiding 1 aan die paartjie verhuur het. ‘n Huurooreenkoms is blykbaar op 21 Augustus 2014 onderteken met die Rirurako’s wat in September daardie jaar ingetrek het. Alles het goed verloop tot Desember 2019 toe huurbetalings gestaak het. Die twee het eers in Augustus 2021 uitgetrek en Mette eis 92 785 dollar in onbetaalde huur. Riruako se regspan vra vandag kondonasie van die hof dat hy sy verdediging laat ingedien het. Die stukke is geliasseer maar is nog nie deur regter Parker aanvaar nie. ‘n Beslissing word vandag in die verband verwag.