Reuse-skuiwergate in verkrygingsprosedures

Die Sentrale Verkrygingsraad het gebieg dat hy nie die kapasiteit het om te bepaal of enige bieër ‘n aanleg vir produksie van goedere waarvoor daar getender word, het of nie. Dit kom na die nuus oor die omstrede 650 miljoen Namibiese dollar aan sakeman Shapwa Kanyama vir verskeie mediese toerusting soos kondome en handskoene. Volgens die hoof van die raad Amon Ngavetene is die enigste rede dat ‘n bieër sogenaamde voorkeur kry is as hy of sy gelys is as ‘n plaaslike vervaardiger. Maar dit is waar oorsig stop. Intussen word daar berig dat President Hage Geingob onder druk is om die hele gesondheidstender, ter waarde van 2,8 miljard Namibiese dollar te kanselleer. Opposisie-leiers het ook hulle stemme hierby gevoeg en daar is ook ‘n aanlyn petisie in die verband wat meer as 7 700 handtekenings het.