Reuse-gasontploffing dood twee in Kenia

Minstens twee mense is dood en meer as 200 beseer in ‘n gasontploffing wat vroeg vanoggend in ‘n fabriek in die Keniaanse hoofstad, Nairobi, voorgekom het. Die vermoede bestaan dat ‘n vragmotor vol gasbottels ontplof het, waarna ‘n brand uitgebreek het wat baie vinnig versprei het. Die brand het skynbaar ook na verskeie aanliggende woonstelgeboue versprei. ‘n Regeringswoordvoerder, Isaac Maigua Mwaura, sê ‘n bevelsentrum is opgestel om die reddingsoperasie te koördineer. Kommer bestaan dat die ongevalle verder kan styg.