Reuse-beleggings in litium, Namibië is begunstigde

Twee van Europa se voorste energie-oorgangsbeleggers beplan om 500 miljoen euro, of 10.2 miljard Namibiese dollar, in te samel vir ‘n battery-grondstoffonds, met die doel om beduidende gapings in die streek se voorsieningsketting toe te maak. InnoEnergy, gesteun deur die Europese Unie, en Demeter Investment Managers sê die EBA Strategic Battery Materials Fund sal sy pogings fokus op kritieke minerale, insluitend litium. Die lande wat hieruit voordeel sal trek is Namibië, Kanada en Argentinië. Die minister van myne en energie Tom Alweendo het onlangs ‘n verbod op die uitvoer van onverwerkte kritieke minerale geplaas maar die uitdaging nou is die reuse-beleggings wat gemaak moet word om veral litium te prosesseer. Sodra die geld ingesamel is, sal Demeter, wat 1,3 miljard euro bestuur en oor 17 jaar in 230 maatskappye en projekte belê het, as beleggingsbestuurder optree terwyl InnoEnergy sal help om potensiële projekte te identifiseer en te ondersteun.