Reünie vir Oasis op pad na 15 jaar

Daar is leidrade wat Liam en Noel Gallagher aan die media deurgegee het.

Die Britse rock-groep gaan vir die eerste keer weer bymekaarkom sedert hulle in 2009 opgebreek het. Aanhangers is opgewonde oor die herontmoeting van die befaamde Britse groep ná ‘n kriptiese Instagram-plasing op die groep se amptelike bladsy, sowel as kommentaar op X deur die groeplid Liam Gallagher.

Die goep was op die top-trefferparade onder leiding van die Gallagher-broers wat gereeld getwis het, en toe opgebreek het in Augustus 2009, toe Noel Gallagher (57) aangekondig het dat hy Oasis verlaat ná ‘n vertoning by ‘n fees in Parys. Verskeie verslae het destyds gesê die broers het voor die vertoning ‘n bakleiery agter die verhoog gehad.

Aanhangers is vol hoop dat die broers dinge sal uitstryk. Die Oasis Instagram-rekening het ‘n beeld gedeel op 25 Augustus met die datum 27 Augustus 2024, en die tyd van 08:00. Die Instagram-rekeninge van Liam en Noel Gallagher het ook die beeld geplaas. Selfs bekendes het op sosiale media ingeskakel, met die Britse musikant James Blunt wat ‘n foto van homself saam met Noel Gallagher geplaas het en geskryf het: “It’s on! – Die reünie waarvoor die wêreld gewag het …”

’n Verslag deur die “Times” het ingeligtes in die bedryf aangehaal wat sê die groep sal in die somer van 2025 in ’n reeks vertonings by Heaton Park in Manchester en Wembley-stadion in Londen optree. Liam Gallagher het gereageer op ‘n plasing op X oor die berig.

Die broers se verteenwoordigers het nie onmiddellik op NBC News se versoeke om kommentaar gereageer nie.

Foto verskaf.