Repokoers: Einde van verhogingsiklus?

Na aanleiding van die repokoers wat onveranderd deur die sentrale bank gelaat is, sê die makelaarsfirma Simonis Storm dat terwyl die Namibiese en Suid-Afrikaanse sentrale banke hulle beleidsvergaderings vir die jaar afgesluit het, sal die Amerikaanse Federale Reserwebank nog een op 13 Desember hou. Dit wil voorkom asof die Amerikaanse bank ook sy siklus van rentekoers verhogings tot ‘n einde gebring het. Dit lei normaalweg tot ‘n verswakking in die Amerikaanse dollar wat voordelig is vir die Suid-Afrikaanse rand en natuurlik die Namibiese dollar. Met sentrale banke regoor die wêreld wat koerse onveranderd gehou het meen Simonis Storm dat rentekoerse wel moontlik hulle hoogtepunt kon bereik het.