Renosterstroper Babi se vonnis-appèlsaak tot September uitgestel
Die renosterstroper en selfverklaarde profeet Jackson Babi, het vandag vlugtig voor die adjunk-regterpresident Hosea Angula in die Windhoek- hoërhof verskyn. Hy appelleer teen sy vonnis van 27 jaar vir renosterstropery. Hy is in September verlede jaar op Gobabis op 11 klagte skuldig bevind. Hy is in Mei 2020 in Kleine Kuppe in hegtenis geneem na ‘n klopjag op sy huis en renosterhorings wat daar gevind is, hom verbind het aan die stropery van twee renosters naby Gobabis. Babi het ook gepoog om die ondersoekbeampte om te koop met 13 000 Namibiese dollar om borg vir hom te verseker. Sy saak is tot 20 September uitgestel vir die toewysing van verhoordatums. Babi se prokureur Trevor Brockerhoff is beveel om sy betooghoofde teen 8 September in te dien, waarna die staatsaanklaer Johannes Kalinin, die antwoordende betooghoofde sal indien.