Renoster-weeshuis vier derde geboorte in die natuur

Die renoster-plaas Rhino Orphanage in Limpopo vier die geboorte van ʼn kalfie vir Kaytie, ʼn wesie wat gered is en by die instelling opgegroei het voor sy weer in die natuur vrygelaat is. Volgens die bestuur is die baba se naam, Mrembo, ʼn Swahili-woord wat beteken “pragtige meisie”. Haar aankoms is ʼn besonderse mylpaal, wat bewys hoe renosterwesies gered, grootgemaak en vrygelaat kan word in die natuur. Kaytie is die derde renoster van die weeshuis wat in die natuur geboorte skenk en bydra tot die volgende geslag diere in hulle natuurlike habitat.