Rekordaantal migrante steek Kanaal oor na Brittanje

Meer migrante as in enige ander soortgelyke tydperk het sedert die begin van 2024 met klein bootjies in Brittanje aangekom nadat hulle die Kanaal van noord-Frankryk af oorgesteek het. Voorlopige syfers deur die Britse regering toon 4 644 ongedokumenteerde mense het tot dusver vanjaar die vaart aangepak. Dit is die hoogste syfer ooit in die eerste drie maande van enige jaar, wanneer daar gewoonlik minder oorstekings is weens die rowwe wintersee. Migrasie is tans ‘n groot politieke kwessie in Brittanje met die land wat voorberei vir ‘n algemene verkiesing later vanjaar.