Regter sê nee vir uitsaai van Trump-verskyning

‘n Hooggeregshof-regter van New York, Juan Merchan, het verskeie mediahuise se versoek om vandag oudpresident Donald Trump se hofsaak uit te saai, van die hand gewys. Vyf stilfotograwe sal toegelaat word om in die Manhattan-staatshof foto’s te neem voor die verhoor begin. Merchan sê die media se versoek is verstaanbaar, maar die nuusorganisasies se behoefte om die grootste moontlike deel van die verhoor se verloop uit te saai, moet opgeweeg word teen mededingende belange. Die saak hou verband met Trump se beweerde betaling in 2016 van sogenaamde swyggeld aan die pornoster, Stormy Daniels. Hy verskyn vanmiddag net na twee-uur New York-tyd.