Regsfirma kap Walvisbaai stadsraad hard oor Red Force
Metcalfe Beukes Attorneys, die regsfirma van die Walvisbaai-munisipaliteit, het alle dienste aan die munisipaliteit gestaak. Prokureur Richard Metcalfe sê in ‘n sterk bewoorde verklaring hulle kan nie voortgaan om ‘n kliënt te verteenwoordig wat weier om aan verskeie wette en sy eie regulasies te voldoen nie. Dit kom na die firma ‘n ondersoek gedoen het na die aanstelling van Red Force Debt Management as skuldinvorderaars, asook sy metodes. Metcalfe sê onder andere die feite dui op klaarblyklike bedrog en diefstal, maar Red Force kan nie die skuld daarvoor kry nie. Die hele stadsraad het alle kwessies wat met Red Force en sy metodes verband hou goedgekeur. Die firma vra dus Red Force onvoorwaardelik om verskoning. Metcalfe sê die stadsraad se resolusies het effektief twee hangende hofsake beslis, tot nadeel van die inwoners en ten gunste van Red Force. Hy voeg by dit is duidelik dat die stadsraad nie daarin belangstel om die ondersoek en verslag oor Red Force te finaliseer nie, en die firma staak die ondersoek.