ReconAfrica kondig olie- en gas-verwagtinge in Kavango aan

ReconAfrica het aangekondig hy verwag om olie in die vlak Mulden-reservoir-intervalle in die nuut-ontdekte Kavango sedimentêre kom te vind. Die dieper Otavi-teiken in PEL073, wat aan Botswana en Angola grens, sal na verwagting aardgas met vloeistof- of olie-opbrengspotensiaal hê. Die twee eksplorasie-putte is sowat 60km suid van Rundu. Die maatskappy is tans besig om toegangspaaie vir put-terreine asook die boorblok voor te berei. Tenders word ook geadverteer vir alle vereiste toerusting en dienste wat verband hou met die multi-put boorveldtog, wat na verwagting rug-aan-rug putte in die Damara-vougordel sal sien. Opvolgboorwerk sal na verwagting óf Prospect M óf Prospect P wees, en beide plekke word voorberei vir boorbedrywighede. Die maatskappy het die afgelope paar maande sy tegniese beoordeling van die Damara-vougordel uitgebrei met die integrasie van nuwe studies, kom-modellering en alle beskikbare geochemiese data. Die maatskappy het Netherland, Sewell & Associates weer betrek om die oliepotensiaal te evalueer en verwag dat ‘n hersiene verslag in Maart uitgereik sal word.