Ramokgopa vry na Mosambiek-elektrisiteit

Die Suid-Afrikaanse minister van elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, vergader vandag met Mosambiek se minister van Minerale Bronne en Energie, Carlos Zacarias, by die Uniegebou in Pretoria. Suid-Afrika wil bykomende krag van Mosambiek aankoop om die land se kragnetwerk te versterk. Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê Mosambiek kan onmiddellik 80 megawatt voorsien en oor die medium termyn nog een-duisend megawatt. Suid-Afrika het tans ‘n tekort aan ses-duisend megawatt elektrisiteit wat Eskom dwing om beurtkrag toe te pas om te keer dat die nasionale kragnetwerk ineenstort.