Ramaphosa bring hulde aan William Smith

President Cyril Ramaphosa het Suid-Afrika se geliefde wiskunde- en wetenskaponderwyser, William Smith, as ʼn onderwys- en kultuur-ikoon beskryf. Die 85-jarige Smith is na ʼn kort stryd teen kanker in Australië dood. Hy het in 2019 die Orde van die Kremetart in Silwer ontvang vir sy uitstekende bydrae om wiskunde en wetenskap meer verstaanbaar te maak. Ramaphosa sê Smith se passie vir sy leerplan en die sukses van diegene wat hy in klaskamers, by matriekkampe en op televisie onderrig het, het miljoene leerders bevoordeel.