Putin stel nuwe eise om Oekraïne-oorlog te stop
Russiese president Wladimir Putin eis dat Kiev meer grond afstaan, troepe dieper binne sy eie land terugtrek en sy NAVO-bod laat vaar voordat hy sy oorlog in die Oekraïne sal beëindig. Putin se nuwe wapenstilstand-eise is uitgereik terwyl gesante van meer as 90 lande, insluitend die Oekraïne, hierdie naweek in Switserland vergader om ‘n Westers-geleide vredesplan te bespreek. Die Amerikaanse minister van verdediging, Lloyd Austin, sê Putin is in geen posisie om eise aan die Oekraïne te stel nie en kan die oorlog wat hy begin het, “vandag beëindig as hy dit sou verkies”. Die Oekraïnse president, Volodymyr Zelenskiy, sê die aanbod kan nie vertrou word nie en Putin sal nie sy militêre offensief staak nie, selfs al word daar aan sy wapenstilstand-eise voldoen.