Putin sê hy sal kernwapens oorweeg
Die Russiese president Vladimir Putin sê hy sal dit oorweeg om kernwapens te gebruik as sy land deur enige staat met konvensionele wapens aangeval word. Putin het Rusland se amptelike kernwapenbeleid verander in reaksie op die VSA en Brittanje wat dit oorweeg om Oekraïne toe te laat om konvensionele Westerse missiele na Moskou af te vuur. Putin het ook gewaarsku dat ‘n kernkragmoondheid wat ‘n ander land se aanval op Rusland ondersteun, as ‘n deelnemer aan aggressie beskou sal word. Hy het bygevoeg dat die land se kernwapens die belangrikste waarborg vir veiligheid is.