Putin sê beloofde gratis graan is op pad

Die Russiese president Vladimir Putin sê sy land sal binne weke gratis graan aan ses Afrikalande lewer. Moskou het in Julie geweier om ‘n ooreenkoms wat deur die Verenigde Nasies en Turkye bewerkstellig is, te verleng. Volgens dié ooreenkoms kon Oekraïne te midde van die oorlog veilig graan uitvoer oor die Swartsee. Sedert die ooreenkoms verval het, het Rusland herhaaldelik Oekraïnse hawens aangeval. Kiëf sê dis ‘n siniese poging om sy uitvoere te benadeel en globale voedselsekerheid te ondermyn. Putin het belowe dat graan na Burkina Faso, Zimbabwe, Mali, Somalië, Eritrea en die Sentraal-Afrikaanse Republiek verskeep sal word.