Putin is ‘n kern-terroris – Zelensky

Oekraïne se President Volodymyr Zelensky het Rusland van kern-terrorisme beskuldig. Dit volg nadat Russiese magte die Zaporizhzhia-kernaanleg, die grootste in Europa, gebombardeer het. Hy sê soldate het doelbewus op die aanleg se ses reaktors geskiet deur tenks met termiese beeldvorming te gebruik. Die Internasionale Atoomenergie Agentskap het bevestig die aanleg werk nog en die brand het nie noodsaaklike toerusting beskadig nie. Amerika se president, Joe Biden, het Rusland gevra om sy militêre bedrywighede in die gebied te staak. Brittanje se eerste minister, Boris Johnson, sê President Vladimir Putin se roekelose optrede stel Europa se veiligheid in gevaar.