Protesoptogte in Israelse stede teen Netanyahu

Sowat 100 000 mense het in die strate van Tel Aviv in Israel betoog in een van die land se grootste teen-regeringsbetogings van die afgelope dekade. Dit is die tweede week van massa-protesoptrede in vier verskillende stede. Die betogers is ontevrede oor planne deur die eerste minister Benjamin Netanyahu se regsgesinde koalisieregering om die regstelsel te hervorm. Die beplande wysigings sal die regering toelaat om die howe te ignoreer indien die howe teen nuwe wetgewing beslis. Teenstanders van Netanyahu, wat tereg staan op aanklagte van korrupsie, beskuldig hom ook daarvan dat hy probeer om regters se magte te verminder om te verhoed dat hy self tronk toe gaan. Die betogers beskuldig die regering van ‘n staatsgreep teen Israel se demokratiese stelsel.