Proteas kan vandag toets wen, indien weer saamspeel
Suid-Afrika staan ‘n kans om vandag die eerste toets teen Wes-Indië in Port-of-Spain te wen, mits die weer saamspeel. Die Proteas het ‘n voorsprong van 154 lopies op die laaste dag, ná reën gister die eerste ses uur se spel ontwrig het. Toe hulle hervat het, het Suid-Afrika die gashere vir 233 uitgeboul om ‘n eerstebeurt voorsprong van 124 op te bou, en toe nog 30 lopies voor die einde van die dag se spel bygevoeg. Keshav Maharaj het sy vierde paaltjie ingeoes – dié van Joshua Da Silva – wat deur Tony de Zorzi uitgevang is vir slegs een lopie.